Patrick Henry (Hendrik) Loots gebore 6/3/1860 op Bosjesmanspoort, oorlede 6/7/1917 op Goedgelegen Marico, met malaria komplikasies na 'n besoek aan wat tans bekend staan as Ellisras.
Ontvang 'n goeie onderrig as kind. Op twaalfjarige ouderdom gaan werk hy saam met 'n landmeter op Kimberley. Sluit in 1880 by sy ouers op Jacobsdal, naby Zeerust aan. Hymeet besproeiingskanale uit en doen onderverdeling van grond. In 1896 meet hy die Samekomsdam in die Maricorivier se kanale uit en hou ook toesig oor die bou van die kanale.
Maak saam met Kommandant Daantjie Botha en Genl. Lemmer by President Kruger beswaar teen die dreigende oorlog. Hy veg dwarsdeur die oorlog onder Genl. de la Rey en Genl. Smuts.
Hy behartig vanaf 1896 tot 1904 sy broer Philippus Cornelis Petrus se boerdery op Schuinsdrift terwyl hy met transportryery in die noorde besig was.In Desember 1916 haal twee ou inwoners van Marico, wat toe langs die Magolrivier woon, nl. Jan Lee en Koos Geldenhuys hom oor om grond langs die Magolrivier in Noord-Waterberg te koop. Tydens 'n besoek aan die Magolrivier doen hy malaria op, wat later in swartwaterkoors verander en hy sterf op Goedgelegen, Marico.
Tydens die slag van Majuba ontmoet hy Kommandant Marthinus Geyser, van Waterberg. Die nooi hom om sekere opmetings by hom te kom doen. Hy ontmoet en trou tydens die besoek die twintigjarige blouoog, voshaar, dogter van die kommandant, nl. Maria Elizabeth Geyser, gebore 15/10/1866 naby Nylstroom, oorlede 25/2/1942 op Ellisras.