Gedoop 12 Apr 1764 Swellendam
Philip Cornelis Loots gebore in Swellendam distrik op die plaas Paardekloof, langs die Breërivier. Hy is op Swellendam gedoop op 12/4/1764. Hoewel hy 'n tyd lank saam met sy vader op Blaauwwater, aan die voet van die Voor Sneeuwberg gebly het, het hy by sy tante en oupa in die Paarl gebly waar hy skool gegaan het. Hy keer 'n klein rukkie terug na Blaauwwater, maar het nie in boerdery belanggestel nie. Hy het as transportryer, handelaar opgetree en was op een tydstip ook 'n grootwildjagter. Dit is miskien die rede hoekom hy niks van sy vader geërf het nie. Hy trou na sy vader se dood op 19/2/1792 met Anna Maria Meijer, dogter van Johannes Jurgen Meijer van Kruidfontein. Sy vrou en kinders het op Kruidfontein, die plaas van sy skoonvader, gebly. Die eiendom het later oorgegaan na sy swaer, Johannes Jurgen Meijer. Na hulle vader se dood in 1819 het die twee seuns, Johannes Jurgen en Philippus Cornelis Petrus hulle waens gepak en noordwaarts getrek tot aan die Rietrivier. Hier het hulle gejag, ivoor, velle en ander produkte by jag-ters gekoop en dit weer aan die Kaap verkoop. Hierdie bedrywighede is voortgesit tussen 1820 tot ongeveer 1835. Die twee broers het alles altyd saam gedoen.
Vanaf 1835 het hulle hul transportroetes begin wysig. Hout is opgekoop in die Knysna omgewing en dan met ossewaens na Graaff-Reinet en Beaufort-Wes vervoer en daar verkoop. Dit was ver afstande wat hierdie hout, bestaande hoofsaaklik uit geelhout planke, vervoer moes word. Daar is gedink aan halfwegstasies waar die waens herstel kon word en waar vars trekosse van tyd tot tyd verkry kon word. Die vrouens moes 'n vaste woonplek kry, want hulle kon nie met die kinders op die togte meegaan nie. Aanvanklik is die plaas Leeuwkloof in die Willowmore gebied bekom. Dit het as halfwegstasie en rusplek gedien in hulle togte tussen Kaapstad en die noorde. Later is ook die twee aangrensende plase Bosjesmanspoort en Paardepoort, net oos van Willowmore, bekom om as halfwegstasie tussen Knysna, Graaff-Reinet en Uitenhage te dien. Hy sit sy transportryery, jag- en smoustogte voort en neem later sy twee seuns op die togte mee. Hy sterf in 1819 op die plaas Kruidfontein.