Pieter is in Circa 1673 gebore. Hy was van Köningsberg en land aan die Kaap in 1695. Hy trou met Johanna DE KLERK/Jannetie DE CLERCQ, die weduwee van Andries Gous. Aangesien Johanna baie kort na Gous se dood met Bekker getrou het, het 'n storie die rondte gedoen dat Bekker vir Gous vermoor het, maar dit is nooit bewys nie.
In 1701 word Pieter na Mauritius verban omdat hy Jan Stevensz Botma aangerand het. Voordat hy weggestuur is, vlug hy die binneland in. Hy moes redelik naby aan sy huis geskuil het, want sy vrou het gereeld kinders van hom gehad.
In 1710 word hy vir die uiters wrede mishandeling van sy slavin, Maria van Ceylon, gevang. Maria word net na die Paastyd vir drie dae lank deur Pieter en sy vrou, Johanna, gemartel "om het niet wel schoon maken van een pan".
Gelukkig het Bekker se mede-vryburgers nie met hierdie verfoeilike dade verlief geneem nie, en nadat dit onder die aandag van die landdros gebring is, is Bekker voor die Raad van Justitie gedaag. As vonnis word Bekker 'n straf vir 'n periode van vier jaar dwangarbeid in kettings op Robbeneiland opgelê. Na die verstryking van die vonnis, is hy as verdere straf uit die Kaapse vestigingingskolonie verban.
In 1715, terug van Robbeneiland, daag Pieter Bekker sy vrou, Jannetie de Clerq, voor die Raad van Justitie. Hy beskuldig haar daarvan dat sy in sy afwesigheid (hoewel hy intieme besoeke van haar op die eiland ontvang het) in owerspel met die korporaal van die Land van Waveren geleef het, en dat sy selfs 'n kind van hom gehad het. Aangesien Johanna boonop nie saam met hom na Europa wou gaan nie, het Bekker die ontbinding van hulle huwelik ge-eis. Johanna het nie die eis teengestaan nie, en die huwelik is deur die Raad van Justitie ontbind. So eenvoudig was die uitslag van die saak egter ook nie. Bekker kry toestemming om weer in die huwelik te tree, en Johanna (as gevolg van haar owerspel) ontvang 'n swaar boete van 100 Rijksdaalders, en word boonop gelas om al Bekker se goedere wat sy in haar besit gehad het, aan hom terug te gee.
Hierop verlaat Bekker die Kaap om sy vonnis as banneling uit te dien, maar dit wil voorkom asof hy ook hiervoor raad gehad het. Hy sluit as 'n soldaat by die VOC aan, en in 1717 bevind hy hom weer aan die Kaap. Hy word egter binne die eerste jaar in hegtenis geneem en na Robbeneiland verban.
Sy gewese vrou ontvang in 1731 die plaas, Straatskerk, over Roodesand.